Agri SA se R1 miljard voedselinisiatief om honger gemeenskappe te voed is in volle swang.
Agri Noord-Kaap se president, Nicol Jansen, sê die projek bou momentum en gemeenskappe wat geraak word deur die Covid-19-pandemie se negatiewe ekonomiese gevolge, asook gemeenskappe wat deur die droogte geteister word, baat hierby. Agri SA het onlangs ‘n beroep gedoen op die regering asook die private sektor om by te dra tot dié inisiatief, want daar is ‘n groot behoefte aan hulp om te oorleef. Jansen sê die afgelope twee maande het boere van Suid-Afrika meer as 900 ton se varsprodukte geskenk aan Food Forward Suid-Afrika, vir die verspreiding daarvan regoor die land. Dit vorm deel van die R1 miljard-voedselinisiatief om die plaaslike kosnood wat ontstaan het weens die Covid-19-pandemie, se ekonomiese gevolge aan te spreek. Jansen sê die goeie nuus is dat droogte-geteisterde gebiede ook daarby baat. Jansen sê kritieke vennootskappe met betrokkenes verskaf aan Agri SA toegang in die waardeketting en dit sal massiewe tasbare waarde ontsluit vir dié organisasies se Second Harvest-programme deurdat produkte wat na hoë-risiko gemeenskappe versprei word, se voedingswaarde verhoog word.