Met die herdenking van AgriSA se 120ste bestaansjaar, is ek gevul met ‘n gevoel van trots en dankbaarheid vir die onvergeetlike reis wat hierdie organisasie oor meer as ‘n eeu onderneem het. AgriSA het van ‘n nederige begin gegroei tot ‘n invloedryke stem vir die landboubedryf wat die belange van boeregemeenskap regoor Suid-Afrika bevorder.
Tydens AgriSA se Green Horizons-kongres wat ons op 9 en 10 Oktober in die ikoniese Zeitz MOCAA in die V&A Waterfront aanbied, sal ons nie net ons geskiedenis herdenk nie, maar ook kyk na ‘n toekoms van innovasie en volhoubaarheid in die landbousektor.
AgriSA se verhaal het in 1896 tydens die Natal Boerekonferensie begin, wat nou bekend staan as Kwanalu, toe boere hul behoefte aan ‘n federale struktuur uitgespreek het om hulle belange te beskerm. Hierdie oproep tot eenheid het verdere momentum gekry tydens ‘n vergadering in Bloemfontein in Desember 1903, waar landbouprodusente die belangrikheid van ‘n gekonsolideerde organisasie erken het.
Die formele stigting van wat uiteindelik AgriSA sou word, het plaasgevind tussen 25 en 29 Junie 1904 tydens ‘n historiese konferensie in Pretoria. Die Suid-Afrikaanse Landbou-unie (SALU), oorspronklik bekend as die Inter-koloniale Landbou-unie van Suid-Afrika, is gestig om alle landbouprodusente in Suid-Afrika (toe nog onder Britse bewind) te verenig en hulle belange op ‘n organisatoriese vlak te bevoder en te beskerm.
Oor die dekades het die SALU uitgebrei en is deur alle daaropvolgende regerings erken as die leidende stem vir die boeregemeenskap op nasionale vlak. Gestruktureer as ‘n federasie, het dit provinsiale landbou-unies, koöperatiewe en kommoditeitsorganisasies bymekaargebring om sleutelkwessies soos grond, water, veiligheid, arbeid, en handel aan te spreek.
Met die ontstaan van Suid-Afrika se nuwe politieke bestel in 1994 het die landskap verskuif. In 1999 is die SAAU amptelik herbenoem as AgriSA soos dit vandag bekend staan.
Terwyl ons terugkyk na hierdie ryke geskiedenis, bly ons verbind tot ons doelstellings om ons lede te dien en die belange van die landbougemeenskap te bevorder. Ons nalatenskap is een van veerkragtigheid, eenheid, en vooruitgang, en ons sien daarna uit om die toekoms van landbou vir die volgende 120 jaar te beïnvloed.