AgriSA bring hulde aan Nic Knoetze met sy aftrede

Janse Rabie, Natuurlike Hulpbronne

AgriSA bring hulde aan die uittredende hoof- uitvoerende beampte van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Watergebruikersverenigings (SAAFWUA), mnr Nic Knoetze, wat aan die einde van 2024 uit sy pos tree.

Mnr Knoetze was ’n dryfveer in die formulering en praktiese implementering van waterwetgewing en -beleid in Suid-Afrika. Oor sy loopbaan het hy deurgaans gepleit vir die skepping en gesonde operasionalisering van plaaslike waterbestuursinstellings en -strukture regoor Suid-Afrika. Die rol van watergebruikersverenigings is ’n deurslaggewende element ten opsigte van die behoorlike implementering van Suid-Afrika se vooraanstaande Nasionale Waterwet.

Mnr Knoetze is in Christiana gebore en het in Klerksdorp grootgeword. Hy het in 1970 as leerling-nywerheidstegnikus by die departement van waterwese en bosbou in Bloemfontein begin werk en het in 1976 as siviele ingenieurstegnikus gekwalifiseer. Daarna was hy tot en met 1984 as bedryfstegnikus by die departement in Bloemfontein verbonde. Tussen 1984-1997 was hy gebiedsbestuurder vir die departement van waterwese en bosbou in Jacobsdal en tussen 1997-2001 het hy as adjunk-streeksdirekteur van die departement se Noord-Kaapse kantoor gedien.

Dit was in hierdie tyd dat sy verhouding met AgriSA begin het en sy ervaring in die praktiese toepassing van die Nasionale Waterwet, veral vir besproeiings-watergebruikers, het hom gou ’n onskatbare bate gemaak, nie net vir AgriSA nie, maar vir die landbousektor in die algemeen.

Hy is in 2001 as die hoof- uitvoerende beampte van die Oranje-Riet-watergebruikersvereniging aangestel. Gedurende hierdie tyd het mnr Knoetze ’n wêreldklas bestuurs- en operasionele model vir watergebruikersverenigings geskep wat later die bloudruk vir sulke verenigings landwyd sou vorm.

In 2004 is hy as voorsitter van SAAFWUA aangestel, en in 2012 as hoof- uitvoerende beampte.

Nooit bang om sy mening uit te spreek nie, maar met inagneming van die belangrikheid daarvan om altyd enigiemand by te staan om die doelwitte van gesonde waterbestuur te bereik, was mnr Knoetze instrumenteel in leidinggewing aan die regering, boere, finansiële instellings, navorsings- en adviesliggame, wateringenieurs, tegnici en mense uit alle vlakke van die samelewing in die toepassing van waterwette en -beleide en die praktiese implementering daarvan.

Mnr Knoetze, ’n goeie vriend en kollega van AgriSA en talle boere regoor Suid-Afrika, in ’n loopbaan in waterbestuur van meer as 50 jaar, sal baie gemis word wanneer hy uit sy huidige pos tree. ’n AgriSA-eretoekenning sal in 2025 aan mnr Knoetze toegeken word. Ons wens hom alles van die beste toe in sy toekomstige ondernemings.