Bedenklike mynbou-regulering ’n toenemende bedreiging vir voedselsekerheid (Deel 1)

Intro: Mynbou-aktiwiteite in tradisionele landbougebiede is ’n groeiende bedreiging vir voedselsekerheid in Suid-Afrika. Hierdie aktiwiteite het ernstige invloede op die beskikbaarheid van water, luggehalte, en landelike veiligheid. Die staat se posisie as sowel reguleerder en aktiewe deelnemer in die mynbousektor kompliseer die situasie verder, aangesien dit ‘n ongelyke speelveld tussen boere en mynbouondernemings skep. Hierdie spanning tussen landbou en mynbou onderstreep die noodsaaklikheid vir verbeterde regulering en beskerming van hoëwaarde-landbougrond.

Ongewenste mynbou-aktiwiteite word toenemend ’n bedreiging vir voedselsekerheid in Suid-Afrika.

Buiten dat landbou toenemend vir hoëwaarde-landbougrond met mynbou moet meeding vir spasie, hou mynbou-aktiwiteite groot risiko’s in ten opsigte van die beskikbaarheid en gehalte van water, luggehalte (veral stof) en geraas, die verplasing of vernietiging van natuurlike (dikwels bedreigde) plante- en dieres-pesies, ’n toename in verkeer en die beskadiging van paaie, asook ’n toename in mense-getalle en informele nedersettings, met gevolglike landelike veiligheidsrisiko’s.

Dié risiko’s word tans veral vermenigvuldig deur die regering se regulering en beleid ten opsigte van 5 hektaar-mynpermitte (veral sandmyne)1, asook die verkenningswerk vir en produksie van natuurlike gasbronne (beide konvensioneel en onkonvensioneel, laasgenoemde veral in die kader van hidrouliese breking, maar ook in die vorm van ondergrondse steenkoolvergassing).

Ten spyte van heelwat navorsing ten opsigte van die mede-bestaansmoontlikhede tussen die sektore , verander mynbou dikwels die aard van landelike omgewings drasties, en gewoonlik blywend.

Suid-Afrika se minerale- en petroleumhulpbronne behoort volgens wet aan al die mense van die land, met die staat wat as die bewaarhebber daarvan geag word3 (trouens, net soos dit al reeds vir dekades die geval is met water en natuurlike hulpbronne4). Die konsep van ons regering as bewaarhebber of trustee van gedeelde natuurlike hulpbronne was, rondom die tyd van Suid-Afrika se demokrasiewording in die 1990’s, nog ’n onbekende verskynsel waaroor die landbousektor terloops toe reeds baie bekommerd was5.

Die staat se publieke trusteeskap- of bewaarhebberstatus behels natuurlik implisiet ’n sorgsaamheidsplig en dat die staat ’n goeie trustee of bewaarhebber moet wees van dit waarvoor hy die verantwoordelikheid neem.

Dit is egter presies dáár waar die haakplek is

Reguleerder en deelnemer
Buiten dat dit bykans ’n onmoontlike taak vir die staat is om tesame metal sy wetgewende, uitvoerende en regsprekende verpligtinge die mededingende trusteeskapbelange vir die omgewing, water en mynbou-hulpbronne effektief te kan bedien deur middel van verskillende regeringsdepartemente binne verskillende regeringsvlakke7 , bevind die staat hom ook in ’n ongeoorloofde posisie waar hy nie net die reguleerder, maar ook ’n aktiewe deelnemer is in die bestuur van daardie hulpbronne8.

Regeringsgesindheid speel noodwendig ’n rol in hoe die mededingende belange tussen mynbou en landbou gereguleer en bestuur word. Ideologiese vertrekpunte maak dat ons bly vasval by kwessies oor eienaarskap en besitsregte (veral in die ruim van ekonomiese en sosiale transformasie) in stede daarvan om aandag te gee aan die daadwerklike dag-tot-dag praktiese bestuur van ons minerale en ander natuurlike hulpbronne. Die regering beskou mynbou ook as ’n maklike welvaartskeppende sektor en is skynbaar baie gretig om mynregte9 uit te reik.

Mynbou en natuurlike hulpbronne word streng en omvattend gereguleer. Natuurlik is dit ook so dat jy altyd mense of maatskappye sal vind wat nougeset aan alle wetgewing sal voldoen, teenoor diegene wat hul hoegenaamd nie daaraan sal steur nie. Tussenin is daar weer die groepie wat selektief en net ten dele sal voldoen.

Die wetgewing en vele regulasies waaraan voldoen moet word, maak volle nakoming vir wetsgehoorsame landsburgers en maatskappye bykans onmoontlik. Dit skep ook ’n goeie teelaarde vir korrupsie, waar elke besluit- of magtigingsmoment die ’n geleentheid skep vir omkopery of onregmatige beïnvloeding, wat weer lei tot verdere regulering om dít te probeer keer. Dit is ’n nimmer-eindigende siklus.

Die punt hieroor is dat, hoewel die regering mynregte links en regs bly uitdeel, dit nóg die regering, nóg die mynbousektor enigsins dien as die uitoefening van sodanige mynregte nie effektief gereguleer kan word nie. Hierdie tekortkoming om as goeie bewaarhebber effektief te kan reguleer en wette te kan toepas, dra by tot ’n tekort aan beleggersvertroue in Suid-Afrika se mynbousektor en het rippeleffekte regdeur ons ekonomie.

Natuurlik staan die landbousektor en voedselsekerheid in die voorste linie teen die aanslag van ongebreidelde mynbou-uitbreiding.

1Sien ook die Artisinale en Klein-skaalse Mynbou Beleid van 2022.
2Sien byvoorbeeld die MinAgri mede-bestaansprojek tussen die Mineraleraad van Suid-Afrika, AgriSA in samewerking met die Universiteit van Pretoria, https://minagri.ivis.africa/
3Sien artikel 3 van die Wet op die Ontwikkeling van Minerale en Petroleum Hulpbronne, 28 van 2002.
4Sien die bepalings van die Nasionale Waterwet, 36 van 1998 en die Nasionale Omgewingsbestuurswet, 107 van 1998.
5AgriSA het uitgerekte regstryd tot in die Grondwetlike Hof gevoer aangesien die organisasie gevoel het dat die Wet op die Ontwikkeling van Minerale- en Petroleumhulpbronne wat in 2002 gepromulgeer is mineraalregte effektiewelik onteien het. Die Grondwetlike Hof het in 2013 teen AgriSA beslis (sien Agri South Africa v Minister for Minerals and Energy [2013] ZACC 9 (18 April 2013).
6Die gemeenregtelike “bonus paterfamilias” of sorgsaamheidstandaard as spreekwoordelike goeie familievader.
7Volgens die bepalings van die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika (1996), is mynbou en water uitsluitlik nasionale wetgewende bevoegdhede, terwyl landbou en omgewingsake funksionele areas van konkurente nasionale en provinsiale wetgewende bevoegdhede is. Munisipale beplanning is ’n plaaslike regeringsvlakbevoegdheid.
8Die Departement van Water en Sanitasie het eers betreklik onlangs hierdie konflik aangespreek met die skepping van ’n onafhanklike reguleerder wat teoreties apart staan van die uitvoerende verantwoordelikhede van die staat ten opsigte van waterhulpbronbestuur.
9Die term “mynregte” word hier in ’n wye konteks gebruik. Die Wet op die Onwikkeling van Minerale en Petroleumhulpbronne, 28 van 2002 omskryf en reguleer ’n reeks regte elk met sy eie vereistes. Dit sluit in: verkenningsmagtigings (artikel 13), prospekteerregte (aritikel 16, mynregte (artikel 22), mynpermitte (artikel 27), retensiepermitte (artikel 31), tegniese samewerkingspermitte (artikel 76), verkenningsregte (artikel 79) en produksieregte (artikel 83).