Riglyne ten opsigte van mynbou-aansoeke
In die oorweging van hoe verset of besware teen bestaande of voorgenome mynbou-aktiwiteite deur georganiseerdelandbou-instansies soos AgriSA en sy geaffilieerde lede gehanteer moet word, moet oorweging geskenk word aan die volgende:
- Boere moet aangemoedig word om aktief deelneem aan georganiseerdelandbou-strukture ten einde tydig ingelig te word van mynbou-verwante verwikkelinge wat hulle mag beïnvloed;
- Besef dat daar sterk druk vanaf regeringsweë is ten opsigte van die uitbreiding van mynbou oral in Suid-Afrika en dat geen deel van die land daarvan uitgesluit is nie;
- Boere moet aangemoedig word om hulself kollektief te organiseer en saam op te tree (ook met ander organisasies);
- Staan enige onwettigheid teë en probeer om die onwenslike elemente van prospektering of mynbou uit te skakel of te mitigeer;
- Bemagtig boereverenigings en boere met die nodige inligting, riglyne en advies-dokumente oor hoe om sinvol deel te neem aan enige publieke deelnameprosesse wat met beoogde prospektering of mynbou-aansoeke gepaardgaan1;
- Plaaslike en provinsiale strukture moet hulself bemagtig met spesifieke inligting van ongewenste en/of onwettige mynbou-aktiwiteite met soveel as moontlike spesifieke besonderhede. Wanneer kwessies na politieke leiers eskaleer moet word, is sodanige inligting onontbeerlik;
- Fokus altyd op die kwessies wat die ernstigste bedreig word, onder meer waterbeskikbaarheid en gehalte en die verlies van hoëwaarde-landbougrond;
- Maak seker dat enige omgewingsmagtigingsproses ook oorweging skenk aan die kumulatiewe effek van bestaande of moontlik beoogde mynbou-aktiwiteite in die omliggende omgewing;
- Versoek dat enige omgewingsimpakstudie of waterlisensie-aansoekstudie ook ’n omvattende landbou-impakstudie insluit2;
- Weet waar om te gaan aanklop wanneer onmiddellik opgetree moet word om moontlike onwettige mynaktiwiteite te stuit (onder meer die kontakbesonderhede van goeie omgewingregslui).
Ten slotte
Die verhouding tussen mynbou en landbou is nie maklik nie en sal waarskynlik nog moeiliker in die toekoms raak om die redes soos hierbo uiteengesit.
Landbou het al in die verlede bewys dat dit die beste geposisioneer is om onwettige mynbou teen te staan en dat dit die beste argument het te opper wanneer ongewenste of swak-deurdagte besluite gemaak word wat voedselsekerheid mag bedreig.
Die sterkste bate waaroor ons beskik is eensgesindheid oor die belangrikheid en volhoubaarheid van ons sektor se bestaan as deel van Suid-Afrika.
- Dieselfde is van toepassing ten opsigte van houers van verkenningsregte vir olie of gas wat mag wil aansoek doen vir produksieregte – sien artikel 82(1)(a) van Wet No, 28 van 2002. ↩︎
- Hierdie vereiste is onder meer uitgelig in onlangse regspraak, naamlik in die gevalle van Thungela Operations (Pty) Ltd v Chief Director, Water Use License Management (Appeal No: WT04/22/GP), 26 April 2023; Eloff Landgoed (Pty) Ltd v Minister of Forestry, Fisheries and the Environment (Case No. 21525 / 2020), 19 June 2023; en Corneels Greyling Trust & Another v Minister of Water and Sanitation & Others (Case No: 2023 / 069111), 11 August 2023. ↩︎