Bedenklike mynbou-regulering ’n toenemende bedreiging vir voedselsekerheid (Deel 2)

Mynbou-regulering: ’n Ongelyke speelveld

Enige boer wat al te staan gekom het teen ’n mynmaatskappy wat voornemens het om op sy grond te kom prospekteer of myn, sal jou kan vertel van die spanning en kommer wat dit meebring. Die ooglopende rede daarvoor is dat die finansiële vermoë van ’n prospekteerreghouer-mynmaatskappy teenoor ’n boer nie gelyk is nie. Dalk minder ooglopend is dat die wetlike speelveld vir boere, vergeleke met die staat en mynmaatskappye, ook baie ongelyk is.

Daar is reeds hierbo verwys na die feit dat die regering beide die reguleerder en ’n aktiewe deelnemer in die ontwikkeling van Suid-Afrika se minerale hulpbronne is. Nie alleen ontvang die regering tantieme vir die ontginning van minerale nie, maar is hy in sekere gevalle ook aktief betrokke by mynbou en petroleumproduksie deur staatsbeheerde ondernemings of deur aandeelhouding in myn en petroleummaatskappye (byvoorbeeld Alexcor, die African Exploration Mining and Finance Corporation, die Thebe Investment Corporation met sy Shell-aandeelhouding, die Musina-Makhado spesiale ekonomiese sone en beplande omvattende mynboubedrywighede wat daarmee gepaard sal gaan, en die pas aangekondigde Suid-Afrikaanse Nasionale Petroleum Maatskappy1).

Buiten vir die ekonomiese voordele van aktiewe mynboubetrokkenheid, is die politieke voordeel natuurlik die waarde van (meestal leë) beloftes van hoëwaarde- ekonomiese investering en werkskepping wat deur multi-nasionale mynmaatskappye en ons regering voor mense se neuse geswaai word as ’n moontlike kitsoplossing vir die land se ernstige armoede, ongelykheid en werkloosheidsuitdagings. Sulke beloftes word gereeld gemaak om plaaslike gemeenskappe te mobiliseer ten gunste van ’n beplande mynbouprojek. Grondeienaars wat hul verset daarteen word dikwels (soms selfs gewelddadig) geteiken.

Ingewikkelde magtigingsprosesse
Die voorgeskrewe magtigingsprosesse waaraan voldoen moet word, vereis dat mynmaatskappye omgewingskonsultante moet aanstel wat ingevolge ’n verskeidenheid wette en regulasies verskillende prosesse en studies moet onderneem (met ander woorde massas papierwerk). Daar word van sodanige konsultante verwag om onafhanklik te wees, maar of dit werklik altyd só is, is onder verdenking. Dit is ook nie altyd moontlik om tred te hou met al die verskillende prosesse of om te weet wanneer of hoe om aktief in die proses betrokke te raak nie, óf wanneer om regsadviseurs te nader om advies of hulp nie. ’n Boer kan ook nie kies om eers die kat uit die boom te kyk tydens aanvanklike prospektering nie aangesien die houer van ‘n prospekteerreg, die uitsluitlike reg bekom om later aansoek te doen vir ‘n mynreg2.

Wat veral twyfelagtig is, is die feit dat die minister van Minerale en Petroleumhulpbronne ingevolge ons Nasionale Wet op Omgewingsbestuur (NEMA3) getaak is om te besluit oor die toestaan (al dan nie) van omgewingsmagtigings (iets wat ooglopend die taak van ’n departement van omgewingsake behoort te wees). Gegewe die regering se aktiewe belang in mynbou en in voorgenome olie- en gas- verkenningswerk, is dit nie ongeregverdig om te praat van die spreekwoordelike “wolf wat die skape oppas” nie.

Die veronderstelde sekerheid wat NEMA bied deur die minister van Omgewingsake die appél-outoriteit teen omgewingsbesluite deur die minister van Minerale en Petroleumhulpbronne4 is ook bedenklik, soos ons onlangs gesien gebeur het in die Karpowership-debakel en in ander gevalle5.

Geen toestemmingsvereiste – slegs konsultering
Suid-Afrika se mynbouwetgewing vereis geen uitdruklike toestemmingvereiste van ’n grondeienaar ten opsigte beplande prospekteer- of mynbouwerksaamhede op sy of haar grond nie. Ons Wet op die Ontwikkeling van Minerale- en Petroleum-hulpbronne vereis slegs dat ’n konsultasieproses gevolg moet word6. Sou ’n konsultasieproses nie na wense vir die betrokke mynmaatskappy verloop nie en ’n grondeienaar toegang tot sy eiendom weier of onredelike vereistes daarvoor stel, kan ’n verpligte arbitrasieproses7 gelas word. Wanneer dit nie vir die mynmaatskappy na wense verloop nie, mag daar ’n onteieningsproses van stapel gestuur word8.

Daarbenewens bekom die houer van ’n prospekteerreg die uitsluitlike reg om aansoek te doen vir ’n mynreg sou sy prospekteringswerk toon dat ontginbare minerale wel aanwesig is binne die prospekteringsgebied9. Die aanwesigheid van ontginbare minerale op ’n bepaalde eiendom skep ook die risiko dat aanliggende eiendomme die oog mag vang van vermeende mynmaatskappye.
Om werklik sinvol aan ingewikkelde omgewingsmagtigingsprosesse te kan deelneem, moet ’n grondeienaar byna in alle gevalle die dienste van ’n prokureur of ander deskundiges bekom – alles natuurlik teen hoë koste. Sou hy dit uiteindelik regkry om ’n sekere mynmaatskappy voor sy hek weg te dryf, is die volgende een dalk weer eersdaags daar.

AgriSA se betrokkenheid
AgriSA en sy geaffilieerde lede het nog altyd (en veral oor die afgelope aantal jare) heelwat gedoen om boere te bemagtig met hoëgehalte-regsadvies en riglyne vir wat hulle te doen staan wanneer hulle gekonfronteer word met prospekteer- of mynregaansoeke10.

Die organisasie het ook aktief aan regsgedinge deelgeneem en finansiële bystand gelewer ten opsigte van regsake van oorkoepelende nasionale belang waarin regspresedente geskep is of geskep kan word.
AgriSA en die Mineraleraad van Suid-Afrika het verder reeds in 2014 ’n formele verstandhouding-ooreenkoms aangegaan waarin die mede-bestaansmoontlikhede tussen mynbou en landbou aktief ondersoek word.

AgriSA het deelgeneem in die opstel van (en hom bearbei vir) die daarstelling van die wetsontwerp op die Bewaring and Ontwikkeling van Landbougrond, wat tans in die finale fase van promulgering staan en tans slegs wag op ondertekening deur die president.

Die uitdagings tussen landbou en onwettige mynbou-aktiwiteite (tans veral sandmynbedrywighede asook die misbruik van aansoeke om 5 hektaar-mynpermit-areas) is herhaaldelik onder die aandag van die nasionale departemente van landbou (ook die nuwe minister) en omgewingsake gebring.

AgriSA besef natuurlik dat mynbou, net soos landbou, ook ’n onmisbare industrie in ons land is. Om voortdurend en by elke mynbou-landbou-konflik betrokke te raak, is nie vir AgriSA of enige enkele organisasie moontlik of wenslik nie.

AgriSA beklemtoon, deur deurlopende beleidsbeïnvloeding, die noodsaaklikheid van die beskerming van voedselsekerheid en die behoud van landbougrond en dat ons landbousektor beskerm moet word teen ongewenste en onregmatige mynboubedrywighede. Deur verskeie inisiatiewe ondersoek en bevorder AgriSA die mede-bestaansmoontlikhede tussen mynbou en landbou.

  1. Sien https://www.engineeringnews.co.za/article/new-state-owned-petroleum-company-granted-permission-to-begin-operating-2024-09-18 ↩︎
  2. Sien artikel 19(1)9b) van Wet No. 28 van 2002. ↩︎
  3. Sien artikel 24C(2A) van Wet No. 107 van 1998. ↩︎
  4. Sien artikel 43(1A) van Wet No. 107 van 1998. ↩︎
  5. Sien https://www.engineeringnews.co.za/article/karpowership-very-confident-south-african-projects-will-proceed-but-open-to-shorter-contract-term-2023-08-15 ↩︎
  6. Artikel 16(4)(b) van die Wet op die Ontwikkeling van Minerale- en Petroleum Hulpbronne, 28 van 2002. ↩︎
  7. Artikel 55 van Wet No. 28 van 2002. ↩︎
  8. Artikel 55 van Wet No. 28 van 2002. ↩︎
  9. Dieselfde is van toepassing ten opsigte van houers van verkenningsregte vir olie of gas wat mag wil aansoek doen vir produksieregte – sien artikel 82(1)(a) van Wet No, 28 van 2002. ↩︎
  10. Sien onder meer Riglyn vir Reaksie op Prospekteeraansoeke op Landbouground, AgriSA (2024), insluitend
    (i) Riglyn vir reaksie op voornemende prospekteeraansoeke op landbougrond in Suid-Afrika;
    (ii) Templaat ↩︎